top of page

waar het dit alles begin?

HERLEWING : ‘N DIREKTE GEVOLG VAN ‘N OPROEP OM TE BID

 

In 1860, as die direkte gevolg van ʼn oproep om te bid wat in die Kerkbode van die NG Kerk gepubliseer was, was die Heilige Gees in die NG gemeente Worcester in die Kaap uitgestort en later ook in ander gemeentes. 

 

HIERDIE HERLEWING het in 1870 na die Soutpansberg in Noord Transvaal uitgebrei en tot alle gemeenskappe versprei.  Maar dit wil skyn of die NG Kerk nie die manifestasies van die Gees verstaan het om aan te pas by sommige van die manifestasies nie.  Met die gevolg dat ons nie veel meer verder daaroor gehoor het nie.

 

Desnieteenstaande was daar families wat tot bekering gekom het en ʼn geslag later, aan die einde van 1890 en die begin van 1900, vind ons wedergebore gelowiges wat die doping met die Heilige Gees en die spreek in tale ervaar het.

 

DIE VOLLE EVANGELIE KERK VAN GOD KOM TOT STAND

In 1909 arriveer George Bowie in SA as ʼn sendeling van Bethal Pentecostal Assembly, onder leiding van Minnie Draper, Newark, New Jersey, USA.  In April 1910 het die Pentecostal Mission tot stand gekom en later die Volle Evangelie Kerk van God in Suidelike Afrika geword.  Die Beetge broers was prominent in die stigting van die Kerk.  Van die begin af was dit ʼn tweetalige Kerk.

 

Die aanvanklike visie van George Bowie was om die inheemse bewoners van SA te evangeliseer.  Die visie het nooit vervaag nie en die Kerk het sy prediking van die evangelisasie tot baie dele van Suid- en Suidelike Afrika verbrei tot sover as die Belgiese Kongo.

 

DIE KERK REIK UIT NA ALLE GEMEENSKAPPE

So vroeg as die 24ste Junie 1915, was W.F.P. Burton en James Slater deur die Uitvoerende Raad afgesonder om die evangelie in die Kongo te gaan preek. Die hele SA, Mosambiek, Namibië, Botswana, Lesotho en die destydse Rhodesië en verder noord tot by die ekwator, het die evangelie onder die vaandel van die Volle Evangelie Kerk gehoor. 

 

ʼn Groot werk was onder die nie-blanke gemeenskappe van stapel gestuur.  Sedert 1925 het J.F. Rowlands en later met sy broer Alex aan sy sy, ʼn kragtige evangelisasie inslag geloods wat tot vandag toe in die Indiër gemeenskap standhou.

 

DIE UITVOERENDE RAAD VAN DIE KERK

Vir baie jare het die Wit-gemeenskap die oorsig oor die hele Kerk gehad en al die departemente was aan die Uitvoerende Raad in Irene onderworpe.  Sedert 1986 het al die gemeenskappe hul eie Moderators en Uitvoerende Rade gehad met verteenwoordigers op die Algemene Moderatuur.  Dit het die situasie ten gevolge gehad dat die Kerk uit vier assosiasies bestaan het.

 

DIE KERK AMALGAMEER MET DIE CHURCH OF GOD

In 1951 het iets wonderliks gebeur.  Onder leiding van die Here het die Volle Evangelie Kerk met die Church of God, Cleveland, Tennessee, USA, wat in 186 lande van die wêreld by wyse van ʼn Wêreld Sending Program, verteenwoordig was, geamalgameer.  Die seëninge en gemeenskap van ons Amerikaanse broeders het ʼn groot bydrae tot die Volle Evangelie Kerk in Suid Afrika gelewer.  Die amalgamasie was uiters voordelig en ons dank die Church of God broeders vir hulle getrouheid, hul lojaliteit en hul liefde. 

DIE STRUKTUUR VAN DIE VOLLE EVANGELIE KERK VAN GOD

Onderhandelinge vir ʼn verandering was vir sestien jaar aan die gang.  Uiteindelik is ooreengekom dat daardie gemeenskappe wat begerig is, kon verenig om een geïntegreerde assosiasie binne die Volle Evangelie Kerk van God te word.  Maart 1990 is die Verenigde Gemeentes van die Volle Evangelie Kerk gekonstitueer, bestaande uit die meerderheid van die swart, kleurling, Indiër en klein groepie van die wit-gemeenskappe.

 

Die Kerk het nou uit twee groepe in stede van vier bestaan naamlik die Irene Gemeentes en die Verenigde Gemeentes.  Meer as sewe jaar later, in Oktober 1997, het ons die verblydende ervaring gesmaak dat die twee groepe besluit het om een strukturele organisasie te vorm en also die Skriftuurlike Liggaam van Jesus Christus verteenwoordig.  Hiervoor prys ons die Here.

 

Die V.E.K. het nagenoeg 2 000 werkers. Die 308 gemeentes van die Irene Assosiasie het met die 650 gemeentes van die Verenigde Assosiasie verenig om ʼn totaal van 958 gemeentes in die Verenigde VEK te hê.  Uitsluitende Namibië is daar ʼn lidmaattal van nagenoeg 350 000.

 

Die Kerk het ʼn paar Ouetehuise en ʼn aantal Bewaarskole wat op ʼn gemeentelike vlak bedryf word.  Daar is ook verskillende voedingskemas wat deur lokale gemeentes hanteer word.  Daar is ʼn aantal skole wat op die “Accelerated Education Programme” opereer.  Die Kerk het verskeie Opleidingskolleges in gemeentes vir studente wat hulle wil bekwaam vir die bediening.   Daar is ook ʼn Korrespondensie Kollege met ongeveer 650 studente.  Dan is daar die Volle Evangelie Kerk Bybelskool te Irene waar studente voltyds opgelei word om hul te bekwaam vir die bediening.

 

Met die amalgamasie met die Church of God in die VSA, wat in 186 lande van die wêreld verteenwoordig word, is die Volle Evangelie Kerk in Suidelike Afrika dan ook ʼn Internasionale Kerk.  As gevolg van die Kerk se uitreikingsprogram het dit duisende lidmate in Suidelike en Sentraal Afrika, Maputo, Angola, Zambië, Malawi, Kongo, Lesotho, Swaziland, Zimbabwe en ander gebiede.

 

HOOFKANTOOR

Die hoofkantoor van die VEK is gevestig op die Kerk se ruim kampgronde te Irene, net buitekant Pretoria. Die kampgronde huisves ook Die Volle Evangelie Kerk Bybelskool.  Die pos adres is: Posbus 40, Irene, 0062.  Telefoonnommer (012) 667 1072/8.

 

DIE STREWE VAN DIE VOLLE EVANGELIE KERK VAN GOD

Die Volle Evangelie Kerk is deur God self in die lewe geroep en het ʼn Goddelike roeping om te vervul.  Die strewe van die VEK is hoofsaaklik die redding van kosbare siele deur die verkondiging van die evangelie aan alle volke, tale, nasies en stamme.  Die kerk bemoei hom nie om staatsake nie, maar sien eerder sy taak om mense tot aanbidding voor God te bring.  Daarom word die volle evangelie verkondig tot heil en redding van verloregaande siele, die genesing van kranke liggame, die doop met die Heilige Gees, die verbreking van die werke van die bose en die volheidslewe in Christus Jesus. Op die gemeente rus die verantwoordelikheid om die roeping van die kerk te volbring.  Om met nuwe ywer en toewyding die evangelie van die koninkryk te verkondig, dissipels te maak van alle nasies, hulle te doop in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.  Om lidmate in te skakel as waardige lede van die liggaam van Christus.  Hulle toe te rus, op te bou en ʼn bedieningsgeleentheid aan elkeen te bied om die roeping van God in hulle lewe te volbring.

ons pastoors familie:
Pastoor Jonathan Els
Chantal Els, Joshua & Jesse

Aanbiddings Leier

elsjc7@gmail.com

kroonstad volle evangelie kerk

+27 76 533 4642

kroonstadvek@gmail.com

​

Hoek van Moll & Symond Straat

Kroonstad

  • Facebook Social Icon

Success! Message received.

@2016 deur Kroonstad VEK geskep met wix.com

bottom of page